VUYU MPOFU IS ’N WARE BELEWENIS

Vokale vuurwerke wag op gehoor

Die Burger 28 Sep 2018 Wayne Muller

Foto: KIM STEVENS
Makudupanyane Senaoana (Robert Leicester) en Vuvu Mpofu (Maria Stuarda) met agter Violina Anguelov (Koningin Elizabeth 1)
Kunstekaap, Kaapstad

As ’n mens die storielyn van Donizetti se opera Maria Stuarda op die mees basiese manier moes beskryf, sou iets soos “ellelange rusie tussen twee magtige vroue” heel gepas wees. Aan die eenkant van die kryt is Elizabeth I (oftewel Elisabetta) en aan die ander kant die Skotste koningin Mary Stuart (die titelkarakter).
Die verhaal is losweg op ware 16de eeuse gebeure gegrond en vertel van Mary se laaste dae totdat haar doodstraf voltrek is – ’n besluit van haar niggie, Elizabeth. Donizetti se weergawe is gegrond op ’n gelyknamige verhoogstuk, en dit is ’n politieke magspel tussen Protestante en Katolieke, en daarby word ’n stryd oor ’n geliefde ingetrek.
Soos die programnotas ook sê beeld die opera Maria (en daarom dat sy die titelkarakter is) as ’n gefolterde heldin uit, terwyl Elisabetta venynig en wraaksugtig is.
Dit is dan ook net die twee vroulike karakters wat mekaar in die bestek van die twee bedrywe met vokale vuurwerke aandurf. Die drie manlike karakters en Maria se vertroueling, Anna Kennedy, is meestal in die agtergrond, hoewel die vroue se gedeelde geliefde, Robert Leicester, heelwat singkans kry.
Donizetti se musiek is dramaties en virtuoos, en, soos die musiek uit sy era maar is, met vele klimakse, wat natuurlik die gestryery tot op die spits dryf.
Violina Anguelov se Elisabetta is nie net bloot wraaksugtig nie, maar blyk effe mal te wees. Anguelov se vertolking van haar maniërisme raak wel dikwels aan die melodramatiese en by tye dalk oordadig.
Anguelov sing met krag, met hoë note wat deur die saal sny en borsregister-note wat haar karakter se haatdraende geaardheid oordra. Deur al die argumente bly Maria statig en verloor seker net een keer haar humeur (wat haar haar lewe kos). Vuvu Mpofu se sang was ’n belewenis – haar stem is ryk, sy beweeg rats deur lopies, en sy verloor nooit fokus nie.
Mpofu en Anguelov teenoor mekaar sorg nogal vir ’n vokale wedywering – daar is nie noodwendig ’n wenner of verloorder nie! Makudupanyane Senaoana as Leicester hanteer die bel canto-frases met goeie beheer, hoewel sy stem soms ’n helderheid geskort het.
Danielle Speckman (Anna) se donker mezzosopraanstem het goed oorgekom, terwyl Mandisinde Mbuyazwe as die statige Talbot vokaal aandag getrek het. Thando Zwane (Cecil) het ’n belowende stem, maar weens sy swaar vibrato het hy dikwels van noot af geklink.
Matthew Wild se inkleding van dié 2015-produksie is eenvoudig en slaag sonder enige werklike rekwisiete (behalwe vir ’n tafel en stoel). Die kostuums en bar stel sorg vir ’n somber atmosfeer.
Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes het goeie samespel en stewige ondersteuning onder maestro Kazem Abdullah gelewer.
Abdullah se leiding het vir goeie balans tussen die sangers en orkes gesorg. Ook verdien die koor ’n pluimpie vir hul puik bydrae.

Saterdag om 18:00, Bespreek by Computicket.com